Rooiwier

Rooiwier
Wetenskaplike klassifikasie
Domein:
(geen rang):
Koninkryk:
Filum:
Rhodophyta

Wettstein, 1901
Subfilums en klasse[1]
Sinonieme

Rhodophyceae Ruprecht 1851
Rhodoplantae Saunders & Hommersand 2004
Rhodophycota Papenfuss 1946
Rhodoplastida
Rhodobionta

Rooiwiere (klas Rhodophyta) leef veraf in tropiese see en hul naam is afkomstig van hul rooi kleur, wat deur die aanwesigheid van 'n aantal uitsonderlike pigmente veroorsaak word. Hierdie pigmente kan selfs in swak lig fotosinteer. Voortplanting kan geslagtelik of ongeslagtelik wees en sommige spesies is ekonomies belangrik.

Die rooiwiere (klas Rhodophyta) het, soos die ander wiere, geen egte wortels, stingels en blare nie en die hele plantliggaam is uit homogene weefsel opgebou. So 'n struktuur word 'n tallus genoem, en hoewel blaaragtige en stingelagtige strukture by sommige vorme onderskei kan word, is dit nie gedifferensieerde organe nie. Kleurstowwe wat vir elke klas alge kenmerkend is, kom in die selle van die plante voor. In die geval van die rooiwiere word groen chlorofil d, asook rooi karoteen en fikobileen aangetref. Die twee kleurstowwe het die plante se kenmerkende rooi of violet kleur tot gevolg.

Die karoteen en fikobileen absorbeer lig vir fotosintese uit die blou deel van die spektrum, wat dit vir die rooiwiere moontlik maak om op groter dieptes (tot 75 m onder die seeoppervlak) as groenwiere te leef. Die meeste rooiwiere kom in tropiese waters voor en tydens fotosintese word die gevormde glukose omgesit in florideensetmeel, 'n stof wat naby verwant is aan dierlike glikogeen. Die selle van rooiwiere bevat ook 'n ingewikkelde koolhidraat, floridosied, wat ’n verbinding van gliserol en die monosakkaried galaktien is.

Die rooiwiere word in twee subklasse verdeel op grond van die groeiwyse van die tallus en die manier waarop die bevrugte eiersel (sigoot) ontwikkel. Die subklas Bangiophycidae bestaan uit oorwegend eensellige of draadvormige spesies wat nie duidelike groeisones het nie. Die selle het slegs een kern en het stervormige chromoplaste. Lede van die subklas Floridophycidae het gewoonlik 'n meersellige, vertakte tallus en die plante groei deurdat selfstandige selle aan die bopunt van die tallus verdeel. Die selle kan dikwels meerkernig wees en dit bevat ook 'n aantal skyfvormige chromoplaste, wat langs dieselwand gerangskik is.

  1. Yoon, Hwan Su, K. M. Müller, R. G. Sheath, F. D. Ott, y D. Bhattacharya. (2006). Defining the major lineages of red algae (Rhodophyta). J. Phycol. 42:482-492

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search